Lewensredding
('n Ware gebeurtenis)
Dis
die vroëe oggend ure. Ons rapsheet uiteindelik afgewerk en ek en Louis, my maat
op vanaand se skof ry stadig op en af deur die verlate strate. Dit is Desember,
die tyd wat ons die bangste voor is want tussen die bome gloei soms reflektors.
Ook vannag weer so, “Ag nee, net nie dit nie!”
Ons stop en stap versigtig nader, die tuinslang en die
handdoek in die venster ... ons raak paniekerig. Sy leef nog, die enjin nog nie
aangeskakel. Ons lig deur die venster, daar is trane op die negentien jarige se wange.
Ek klop aan die venster, “Maak asseblief oop!”
“Fok jou!!” gil sy terug.
Louis sê, “Jy kan maar sê ‘fok jou’, maar ons gaan nou
op jou bonnet sit en rook tot dat jy oopmaak.”
Ons haal ons pette af, steek ʼn sigaretjie aan en wag.
Die ruit gaan effens oop.
“Nou wat het gebeur?” vra ek.
“Fokkol met jou te doen!” skree sy terug.
“Het jou kêrel jou gelos?” vra Louis.
“Ja, maar fok jou weer ʼn keer!”
“Toe ek so oud soos jy was het my meisie my mos net so
gelos toe ek Langebaan toe moes gaan ... ”
Die ruit draai verder af, “Rêrig en toe?”
“Stupid vraag, ek het gesuip natuurlik, gesuip met net
een doel om my self vrek te drink”
“En toe?"
“Wel, die aand lê ek net in my bed, toe klop iemand
aan die deur. Dit was ons baas. Hy kom sit by my, hy het my hand gevat, ‘Ou
Louis, jy moet nou slaap, net môre ry ek en jy saam en die keer gaan jy voor
sit en alles doen!’ Toe ons daardie middag terug kom, het al die ouens en die
mechanics hulle pette in die lug gegooi en net vir my ge-tjeer!”
Sy vra, “Wat doen jy dan nou?”
“Ek werk af en toe vir die polisie, maar daar is vandag
350 mense wat graag New York toe wil gaan. Ek gaan hulle neem, ek gaan weer
heel voor sit ...”
Terwyl hulle praat, neem ek die tuinslang, die
handdoeke en bêre in ons bakkie. “Kom, sit jy nou daar, Louis sal bestuur, ons
moet jou na jou mamma toe neem, ek volg met die bakkie.”
By die huis brand al die ligte, ʼn man en vrou hardloop
uit, rasend van bekommernis. Al vyf van ons staan styf teen mekaar, ons trane
loop.
Die mamma kyk op, “Kyk net daar hoe mooi!”
Ver weg oor die Magaliesberg wys die eerste strale van ʼn nuwe
dag ...

Comments
Post a Comment