Posts

Showing posts from March, 2024

Lewensredding

Image
  ('n Ware gebeurtenis)   Dis die vroëe oggend ure. Ons rapsheet uiteindelik afgewerk en ek en Louis, my maat op vanaand se skof ry stadig op en af deur die verlate strate. Dit is Desember, die tyd wat ons die bangste voor is want tussen die bome gloei soms reflektors. Ook vannag weer so, “Ag nee, net nie dit nie!” Ons stop en stap versigtig nader, die tuinslang en die handdoek in die venster ... ons raak paniekerig. Sy leef nog, die enjin nog nie aangeskakel. Ons lig deur die venster, daar is trane op die negentien jarige se wange. Ek klop aan die venster, “Maak asseblief oop!” “Fok jou!!” gil sy terug. Louis sê, “Jy kan maar sê ‘fok jou’, maar ons gaan nou op jou bonnet sit en rook tot dat jy oopmaak.” Ons haal ons pette af, steek ʼn sigaretjie aan en wag. Die ruit gaan effens oop. “Nou wat het gebeur?” vra ek. “Fokkol met jou te doen!” skree sy terug. “Het jou kêrel jou gelos?” vra Louis. “Ja, maar fok jou weer ʼn keer!” “Toe ek so oud soos jy was he...

Die wêreld is ʼn toneelstuk

Image
  ('n Ware gebeurtenis) “Ag nee, net nie dit nie,” sug ons toe die brief in die bruin koevert opdaag. Ons gaan sit toe daardie Saterdag, dit was in die 1990's, in die majoor se kantoor gereed vir die slegte nuus. “Here en dames,” begin Majoor Vermeulen moedeloos, “Die hele lot is weer op my nek, die keer uit die kantoor van die minister. Julle ouens moet asseblief aan iets dink, dit kan net nie so aangaan nie!” So liewe leser dit werk nou so, elke Saterdagaand rinkink vele studente in die Pirates Cove so sewe kilometer van die manskoshuise in Lynnwoodweg. Net om daarna met groot lawaai en huilende bande die terugtog aan te pak, soms met rampspoedige gevolge. Almal kla omdat ons al weer niks doen en so onbevoeg is. Wat jy nou ook sal moet verstaan is dat in daardie tyd, almal wat saak maak in Lynnwood bly. Jy sien hulle vandag nog op Pensioenaris Dinsdag in Super Spar agter die winkelwaentjies skuifel. Al wat die gewese belangrike ooms oor het om te wys staan blink en...

Die Ore is dom!

Image
  ('n Ware gebeurtenis) Op patrollie weet jy wanneer om drasties op te tree en wanneer om net stil te bly. Paar dinge baklei jy nooi mee nie, bo aan die lys is Klippies n Coke en veral Black Label wat altyd die laaste woord sal in kry. So moet ons by die vreeslike jaarlikse Pretoria Skou die orde gaan probeer handhaaf. Ons groepie onder leiding van Sersant Hendersohn, (in die regte lewe Dokter Chris) bevat drie ingenieurs, ‘n advokaat, geoloog en dan dom doktor Sakkie. Die ou het net twee doktorsgrade in teoretiese fisika … Sakkie en ek loop by die kroeg verby. Daar sit ‘n blonde dame met ‘n nog Black Label in haar hand. Luidkeels verklaar sy aan die hele kroeg, “Kyk net daai karakters. Amper al veertig en nog net konstabels! Dit verklaar die toestand waarin ons land is!” Sy neem ‘n lang diep sluk en kyk na haar tiener seun, “Kosie kyk nou mooi na hulle … dis wat met jou gaan gebeur as jy nie jou huiswerk doen nie!”

Nog ʼn Seder val in Waterkloof

Image
 ('n Ware gebeurtenis) Dit was seker so twee uur daardie Donderdagoggend. “Bravo Lima 3, dis Romeo...ons het ʼn kode 03 in Lawleystraat 357 B.” Die mooiste woorde wat jy op jou voertuigpatrollie kan hoor. Al ons opdragte het as die kodes gekom ... 01 was betreding, 02 was voertuig diefstal, 04 moord ... Maar zero drie die hemelse ene; misdaad in aanvang! Enige twintig jarige konstabel los alles en haas haar en hom daarheen, want dit beteken net een ding, oorlog. Lekker oorlog ... Ons maak ʼn U draai, sit die blou lig aan en die voet in die hoek. By die adres aangekom is al wat leef en reeds daar, ongenooi natuurlik. Moord en Roof, die Speurtak se ouens, die Tekkie squad (dis nou Spesiale Dienste) en die Hond Eenheid al blaffende met om alles mooi af te rond, Chubb en ADT Security wat weer op ons radio onwettig ingeluister het. ʼn Grênd twee verdieping, omsingel met manne selfs bo-op die dak, 9 mills oorgehaal in gevegsposisie. Ek en Izak, se werk en voorreg dit eintlik is ko...

Griekse Lewensredding

Image
 ('n Ware gebeurtenis) Ons is al lankal oor dertig, merke van die lewe op ons. Ons is uit allerhande professies, die meeste van ons is dames. Ons sersant is 'n dokter, die luitenant 'n ingenieur en die kolonel 'n staatsamptenaar. Ons loop saans klas en leer krimonologie en die gemenereg, Saterdae skiet ons met haelgewere, die R5 met sy onmoontlike gaatjie visier en 9 mm Parabellums. Ons dril selfs bietjie, maar dit wou nooit mooi uitwerk nie. Ons gee twintig ure per maand, ons werk hard, ons is in die Universiteit van die Lewe. Hulle noem ons “Pigs” en “Ore” en dink ons is dom, ons kry ons ʼn vaste bedrag vir ons werk en ons koste, R 0.00 per maand ... Ons is trotse lede van die SAPD Reserwemag! Dis Woensdag net na werk en ek en Lourens val 5 uur die middag in die pad met ons bakkie, “Romeo, dis Bravo Lima 3...” (dis die afkorting vir Brooklyn Stasie en Radio Beheer) “Bravo Lima 3, dis Romeo, motor diefstal by Willow Ridge plotte, huisbraak in Steynstraat 16 al...

Die grootste offer

Image
  (Fiksie)     Opgedra aan my mede konstabels van die Brooklyn Stasie, die Honde Eenheid en ook die Tekkie Squad. Julle was my professore in die Universiteit van die Lewe.   “Nie ʼn enkele leidraad nie, ‘Sant. Trust my, ons het die studeerkamer gestrip, gesearch en wragtag waar elke nook en cranny gecover. Dit was ʼn slimme bliksem wat hier ge-operate het ‘Sant ...” “Ai tog oom Koos,” dink sersant Piet van Wyk terwyl hy na die klein outjie met die blonde hare kyk, “het altyd mos die kat aan sy stert beet en dis hoekom hy op 54 die oudste konstabel in die Mag is ...” “Oom Koos hoor nou mooi hierso, oom kan nie net instorm nie en goed rond gooi nie, ons moet vir Forensies wag!” Dis dan gewoonlik net hier waar Koos sy ware kleure wys, hy kyk op na Piet. “Luister Pietman, jy mag ʼn sersant wees, ses voet ses lank wees, maar ek en jy weet jy is nog nat agter die ore. Laat ek nou vir jou vertel ...” Koos babbel voort en Piet maak maar asof hy hoor. Als is opgene...

Die Koeël is deur die Kerk

Image
 (Fiksie) Geïnspireer deur Deon Meyer stories, eie ervaringe in die SAPD en veral die “Tekkie Squad” waar ons eers skiet en dan dalk praat. Dr de Swardt, my veearts, “ons is genadiger met ons pasiënte as dokters ...” Opgedra aan Vader Ed Dexter vroeër van St Paulus, Pretoria, Aartsbiskop George Daniel, uit Europa en wat ons taal praat en Elizabeth Schiller van Berlyn, moeder owerste van die Bronkhortspuit Vigs Kinderhuis. Hulle het my geleer wat beteken, “om my naaste lief te hê.”     Die moordenaar sluip van boom tot boom. Al die Rottwielers is uit die pad, die sekuriteit gesaboteer. Breek die ruit en klim vinnig in en saggies af in die gang. Dit is 3 uur en almal slaap. Ook die teiken, die .22 en knaldemper gereed, mik tussen die oë ...   Alles verby, die moordenaar haal ʼn dowwe liggie uit om seker te maak die projek is suksesvol voltooi, sien weereens die klein gaatjie met die kordiet om dit, die lewelose blou oë en toe, “NEEE!!!”   Dit is op ...

Die Bloutrein

Image
 (Fiksie)     “Ek is speurdersersant Van der Linde en dit is konstabel van Vreden. U is ... ?" vra die groot man toe die kompartementdeur oop skuif. Lydia van Vreden loer bang onder deur Sersant Koos se arm na die bloed wat van die banke afdrup ... “En nou ‘sant?” Lydia kyk verskrik na die plas bloed wat op die vloer groei. Die Bloutrein skommel rustig op sy spoor, dis middernag en die volmaan skyn helder oor die Karoo vlaktes. Koos gaan stadig op sy knieëe, kyk diep in die lewelose oë van die pragtige blonde meisie. “Lydia gaan vang die bliksem, nou!” Koos hou haar bewende arm vas, “Ek gaan agter toe en jy vorentoe!” Lydia draf in die helder verligte treingang af, van wa tot wa, sy luister, sy vorder tot heel voor. “Wie is die meisie, wat het gebeur, hoekom, hoekom?” wonder sy. Daar is ʼn klik geluid ... sy staan tussen die twee waens, die trein swaai rustig heen en weer. “Jou bliksem! Ek het jou!” Die kompartement deur skuif oop en daar staan dit, 'n dwer...

En drie maal kraai die haan!

Image
 (Fiksie) "Hy’s dood!” skree Ruben deur haar venster, “Dis pa!” Mia gil, “Wat! Waar?” “Hy lê net daar in die skuur, seker ʼn hartaanval!” Sy hardloop by die huis uit na die skuur toe, Ruben strompel agterna met sy groot maag en lomp bene. Die lyk lê skeef onder die John Deere, alles is verby … “Maar Ruben hoe het hy hier gekom? Waar’s sy rystoel?” “E-e-ek weet nie, toe ek hier kom toe is hy net hier!” “Ek gaan die polisie bel, dis iets anders, hier’s ʼn helse fout!” skree sy op hom. “Waag dit net, weet jy hoeveel twak gaan dit veroorsaak? Ek gaan hom nou terug stoot en in sy bed sit en vir dokter bel om te kom kyk en hom af te teken.” Mia hardloop huis toe en gryp die foon, sy draai die slinger oor en oor, “Sentrale, sentrale, waar’s jy?” Alles is grafstil, is die draad af? Ruben strompel in, “Waddehel doen jy? Is jy van jou kop af? As die polisie hier kom het ons groot moeilikheid. Pa het net dood in sy bed gelê, het jy my!” Mia sit op die koppie en kyk uit oor die opstal. Die st...