Straat verwarring

  ('n Ware gebeurtenis)



Dis al diep Desember, Donderdagaand al laat en die foon lui. Die baas, "Jong jy moet help, hulle soek 'n ou om môre 9 uur 'n lesing oor geostatistiek te gaan gee."

My moed sak in my skoene en ek vra toe, "Waar?"

" Free State Geduld goudmyn Odendaalsrus"

"Aaag neee!" dis net 756 kilometer heen en weer en ek moet nog voorberei ook. Slapelose nag volg om vyf uur in die pad te val, Vanderbijlpark - Kroonstad - Welkom ....

Lesing gegee en strompel half vyf daardie middag by my huis in. Die foon lui weer ...

"Jong ons loop uit manne uit, alle hel is al weer los, dis Desember, jy MOET kom help," gil die sersant uit die Brooklyn aanklagkantoor.

Vuisvoos trek ek my uniform aan, laai twee ekstra magasyne met 9 millimeter rondtes om voorsiening vir 'n lang nag se gevegte te maak. Gaan laai my maat op, ou Gerhardt, meganiese ingenieur. Met hom langs jou loop jy 'n berg storm, hy het 'n 2e Dan in karate!

Ons kry die bakkie, hy dryf en ek doen die radio, "Romeo, dis Bravo Lima drie ..." 

"Bravo Lima drie, hier kom dit " en hy lees 'n rap sheet af wat al vroeg die oggend begin het. Wat jy dan doen is om te fokus op goed soos "misdaad in aanvang" en "betreding". Die res soos honde wat blaf of 'n ou inbraak moet net wag.

Een uur daai nag kom ons eers by die oggend se inbraak uit. Kolliestraat Garsfontein. Al die strate daar in uitbreiding ses is mos na honde vernoem. Die adres bestaan nie en die hele straat is vir ons kwaad omdat ons so raas.

Gerhardt in 'n oomblik van helderheid roep uit, "Dis Coleystraat man!"

01:45 Klop ons aan die deur. So 'n groot ou pluk dit oop, Klipdrif in sy hand. “Julle stupid polisie, hier wag ek nou heeldag fokkenwil vir julle! Kyk hoe lyk julle, horingoud en nog net konstabels! Wat 'n joke!”

Net daar was alles te veel, die 36 uur se rond jaag, alles. Ek 'n klein kort outjie en verloor alle beheer en slaan hom voluit op sy ken dat hy ploeg in die vloer ... lekkerrr!

Gerhardt kom in gevegsposisie en red die situasie van verdere bloedlating.

Kom vier uur die oggend by die huis, trek my uniform buite uit want my eie hond wil mos my byt as ek dit aan het. Sluip in die gang af en gaan lê in die bad. Die water verkleur pienk van aanslae van die nag ...

Vroegoggend weer die foon, weer die aanklagkantoorsersant, “Jy moet dadelik inkom, majoor wil met jou praat”

Kom daar in Majoor Venter se kantoor, “Jong vertel my die storie?”

Ek vertel. Hy staan, op en skud my hand. “Veels geluk, ek sou hom ook gemoer het, maar die ou het verkeerde familie, sy oom is sy edele die agbare  minister en nou is alle hel los!”

Hy gaan aan, “Raad wat ek jou kan gee wat dalk kan help, tel eers tot tien voor jy hom moer, as jy hom nog wil moer tel weer tot tien, wil jy hom steeds moer, moer hom!”

“Ek sal die minister se spul hanteer, weet net ek is trots op jou, maar ... volgende keer bel my eers vir jy afhaak!”

Ek ry huis toe, dink aan sy leierskap dit word 'n lewensles dat jou mense altyd eerste kom en jy deur die vuur moet loop vir hulle.

Comments

Popular posts from this blog

Lewensredding

Die Ore is dom!