Die grootste offer

 

(Fiksie)

 
 

Opgedra aan my mede konstabels van die Brooklyn Stasie, die Honde Eenheid en ook die Tekkie Squad. Julle was my professore in die Universiteit van die Lewe.

 

“Nie ʼn enkele leidraad nie, ‘Sant. Trust my, ons het die studeerkamer gestrip, gesearch en wragtag waar elke nook en cranny gecover. Dit was ʼn slimme bliksem wat hier ge-operate het ‘Sant ...”

“Ai tog oom Koos,” dink sersant Piet van Wyk terwyl hy na die klein outjie met die blonde hare kyk, “het altyd mos die kat aan sy stert beet en dis hoekom hy op 54 die oudste konstabel in die Mag is ...”

“Oom Koos hoor nou mooi hierso, oom kan nie net instorm nie en goed rond gooi nie, ons moet vir Forensies wag!”

Dis dan gewoonlik net hier waar Koos sy ware kleure wys, hy kyk op na Piet. “Luister Pietman, jy mag ʼn sersant wees, ses voet ses lank wees, maar ek en jy weet jy is nog nat agter die ore. Laat ek nou vir jou vertel ...”

Koos babbel voort en Piet maak maar asof hy hoor. Als is opgeneuk en hy sal weer by die majoor moet gaan verduidelik, ai tog ...

Net toe gebeur dit toe hulle dit die minste verwag, uit die kombuis, “Ghwaaaa!”

“Koos, wat is dit nou?”

“Piet, staan stil laat ek gaan kyk,” Koos stap tree vir tree na die kombuis deur, sy 9 mil oorgehaal, hy verdwyn om die deur.

Die dik arm kom van nêrens, die koue lem is teen Piet se nek en die bloed begin drup op sy hemp ...

“Staan doodstil jou blou bliksem!”  fluister die stem in sy regter oor.

“Nee wat, hier is niks, Sant!” bulder Koos uit die kombuis en stap terug.

“Wat gaan hier aan?” skreeu hy.

“Een tree nader en ek sny sy keel af nes ek met Nellie gedoen het!”

Koos vlieg letterlik deur die lug hy, hy duik vir Piet en die aanvaller plat op die grond. Hulle rol en rol, die dik getatoeerde arm hou die mes bo Koos.

Koos spartel, Piet steier op sy voete maar te laat, die mes sink diep weg in Koos se hart, weer en weer.

Piet gryp na die Parabellum, hy skiet die magasyn leeg. Bloed en nogmaals bloed ...


“Ons lê ter ruste vandag vir konstabel Koos Louw ...” die kapelaan snik, “Koos was my beste en enigste ware vriend, ek is soms so alleen en dan was hy altyd daar ... ”

Sersant Piet van Wyk staan effens eenkant, hy kyk na die verwese mamma en haar twee blonde dogtertjies by die graf, hy huil en huil ...

Comments

Popular posts from this blog

Lewensredding

Straat verwarring

Die Ore is dom!