Die wêreld is ʼn toneelstuk
“Ag nee, net nie dit nie,” sug ons toe die brief in die bruin koevert
opdaag. Ons gaan sit toe daardie Saterdag, dit was in die 1990's, in die majoor se
kantoor gereed vir die slegte nuus.
“Here en dames,” begin Majoor
Vermeulen moedeloos, “Die hele lot is weer op my nek, die keer uit die kantoor
van die minister. Julle ouens moet asseblief aan iets dink, dit kan net nie so
aangaan nie!”
So liewe leser dit werk nou so, elke
Saterdagaand rinkink vele studente in die Pirates Cove so sewe kilometer van
die manskoshuise in Lynnwoodweg. Net om daarna met groot lawaai en huilende
bande die terugtog aan te pak, soms met rampspoedige gevolge. Almal kla omdat
ons al weer niks doen en so onbevoeg is.
Wat jy nou ook sal moet verstaan is
dat in daardie tyd, almal wat saak maak in Lynnwood bly. Jy sien hulle vandag
nog op Pensioenaris Dinsdag in Super Spar agter die winkelwaentjies skuifel.
Al wat die gewese belangrike ooms oor
het om te wys staan blink en netjies in die parkeerterrein, die ’94 C230 wat
met die laaste pakket geldjies na sy vroeë uittrede gekoop is. Die ooms, gewese
adjunk direkteurgenerale, bestuurders van die oorlede landbourade almal daardie
tyd ʼn direkte lyn na die Uniegebou gehad.
Wat jy verder moet weet is dat die
genoemde baldadige studente weer nabye familie van dieselfde belangrike
karakters is. So daar het jy dit, verloor en verloor en die arme konstabels,
sersante en offisiere van die SAP is dom en onbevoeg ... al weer!
Die majoor kyk ons diep in ons oë en
smeek op ʼn oplossing. Ons is lede van die reserwemag en ons doen ander werk,
maar naweke help ons die wa deur die drif trek. Betaling daaroor nogal ruim:
R0.00!
Pieter, ons luitenant en ʼn elektroniese
ingenieur sê toe, “Ouens kom ons lys bietjie wie en wat ons is.”
Wel jy sal my nou nie glo nie. Sersant
Chris, is ʼn dokter. Guido en Frans is ingenieurs met swart gordels in Karate,
ou dom Konstabel Sakkie het twee doktorsgrade in fisika terwyl Johan ʼn maar net
'n advokaat is. Annette weer se man is vise president van die Reserwe Bank ...
so hou die lys aan. Ons buig toe krom en die meesterplan word gebore.
Daai Saterdagaand, so van tienuur af,
blokkeer ons Lynnwoodweg. Die eerste slagoffer word afgetrek, dis Guido en
Frans se werk wat enige teenstand met ʼn stampie op die regte plek begroet.
Hulle sleep die arme ou tot in die vangwa. Daar is ʼn netjiese bed en Chris
staan daar in volle uniform met ʼn stetoskoop om sy nek. Annette weer is soos 'n
suster in die ongevalle eenheid aangetrek.
“Lê ou en gou ook!” sis Guido.
Voor die slagoffer kan dink, sink die
naald in sy polsslagaar en 25 milliliter donker rooi vloeistof beland in ons
houertjie, netjies genommer. Toe volg sy vingerafdrukke.
“Julle kan dit nie doen nie!” gil hy,
“my pa ken die minister en hy sal julle kom ophel!”
Vir sy geskrou nog ʼn pynlike houtjie
van Guido en hy strompel na sy kar van waar sy verwilderde vriende alles moet
aanskou. Ons laat nog twintig aan die pen ry. Natuurlik sprei die slegte nuus
terug na die Pirates Cove en die manskoshuise. Koos die kroegman, sit die
musiek af, “Ouens hoor hier, die Ore sit in Lynnwoodweg, julle moet oor
Atterbury terug ry!”
Sakkie sit in die hoek met ʼn Black
Label in sy een hand en fluister in sy radio, “Manne, skuif gou Atterbury
toe!"
Die slagting duur voort en ons herhaal
die pret nog drie naweke. Geen vorms, bloed analises, polisiesel aanhoudings,
krapperige staatsaanklaers of hofsake terwyl dronkbestuur in Lynnwood val met
90%!
Nou dierbare leser weet ek jy sal my
vra, “Nou wat maak julle toe met al daai bloed?”
Wel, daar is lang wette daaroor
mediese afval, maar niks wat ons nie twee uur die oggend, net daar op die hoek
van Atterbury en Lynnwood nie kan reg maak nie ... al die bloed en die houers
verdamp in die winterlug danksy ʼn welige kampvuurtjie!
Lekker slaap en ry tog veilig ...
Erkenning aan William Shakespeare, “All
the world's a stage, and we are just the players”.

Comments
Post a Comment