Griekse Lewensredding
('n Ware gebeurtenis)
Ons is
al lankal oor dertig, merke van die lewe op ons. Ons is uit allerhande
professies, die meeste van ons is dames. Ons sersant is 'n dokter, die
luitenant 'n ingenieur en die kolonel 'n staatsamptenaar.
Ons loop saans klas en leer krimonologie en die
gemenereg, Saterdae skiet ons met haelgewere, die R5 met sy onmoontlike gaatjie
visier en 9 mm Parabellums. Ons dril selfs bietjie, maar dit wou nooit mooi
uitwerk nie. Ons gee twintig ure per maand, ons werk hard, ons is in die
Universiteit van die Lewe.
Hulle noem ons “Pigs” en “Ore” en dink ons is dom, ons
kry ons ʼn vaste bedrag vir ons werk en ons koste, R 0.00 per maand ...
Ons is trotse lede van die SAPD Reserwemag!
Dis Woensdag net na werk en ek en Lourens val 5 uur die
middag in die pad met ons bakkie, “Romeo, dis Bravo Lima 3...” (dis die
afkorting vir Brooklyn Stasie en Radio Beheer)
“Bravo Lima 3, dis Romeo, motor diefstal by Willow
Ridge plotte, huisbraak in Steynstraat 16 al vanoggend en betreding by
Lawleystraat 25 ...” Die lys hou aan en aan.
Lourens het sy een uniform vir die ander verruil. Hy
vlieg Airbus vliegtuie vir ʼn lewe. Ons werk die rap sheet van bo na onder, eers
die motordiefstal.
Met die bloulig flitsend op die dak draai ons by die
plot in. Hierdie mense is ryk, skatryk, daar staan ʼn SLK en ʼn Cheyenne blink
geparkeer. Voor die huis staan die klaer, Pringle hemp wat los hang oor ʼn Levi,
in sy hand ʼn .45. (Vir wat nie weet nie, sy koeël is so dik soos jou duim.)
“Goeiemiddag meneer,” groet ons, “enige verdagtes?”
“My vrou!” gil hy op ons. Hy is nie alleen nie, sy
vriend Jack is by hom, Jack Daniels.
“Maar jou vrou kan mos nie jou kar steel nie,”
protesteer ek.
“Laat ek nou vir jou vertel,” dreun hy voort, “my
dogter is vandag agtien, en sien jy daai bos blomme daar in die garage pad wat
sy daar gegooi het? Dis wat sy daarvan dink, toe jaag hulle hier weg met my kar!”
Hy klameer effens, “Sy is deurmekaar met ʼn Griek in sy kafee in Sunnyside en ek het julle net hier gekry om die staat se geld te spaar. Julle
weet waar om my te kom haal want nou gaan ek hom met die pistool vrek skiet!”
“Jy kan dit nie doen nie, weet hoe lank gaan jy in die
hof moet sit?” probeer ons hom oortuig.
Hy kalmeer effens, “maar kan ek hom dan gaan dik
donner?”
“Jy kan,” verduidelik Lourens die fyner punte van die
reg, “maar moet net nie ’n voorwerp gebruik nie, dan is dit ʼn bylaag 16 misdaad
en dis so goed soos moord.”
“O nou verstaan ek, baie dankie vir julle goeie raad,”
groet hy ons vriendelik en oorhandig die .45, “ek gaan hom dan nou net nou met
my vuis dik slaan tot in Athene!”
Hy klim in die SLK, die bande huil op die plaveistene ...
ons sug van verligting van die lewe van Dimitrio is gespaar ....

Comments
Post a Comment