Nog ʼn Seder val in Waterkloof
('n Ware gebeurtenis)
Dit
was seker so twee uur daardie Donderdagoggend. “Bravo Lima 3, dis Romeo...ons
het ʼn kode 03 in Lawleystraat 357 B.”
Die
mooiste woorde wat jy op jou voertuigpatrollie kan hoor. Al ons opdragte het as
die kodes gekom ... 01 was betreding, 02 was voertuig diefstal, 04 moord ...
Maar zero drie die hemelse ene; misdaad in aanvang!
Enige twintig
jarige konstabel los alles en haas haar en hom daarheen, want dit beteken net
een ding, oorlog. Lekker oorlog ...
Ons
maak ʼn U draai, sit die blou lig aan en die voet in die hoek. By die adres
aangekom is al wat leef en reeds daar, ongenooi natuurlik. Moord en Roof, die
Speurtak se ouens, die Tekkie squad (dis nou Spesiale Dienste) en die Hond
Eenheid al blaffende met om alles mooi af te rond, Chubb en ADT Security wat
weer op ons radio onwettig ingeluister het.
ʼn Grênd
twee verdieping, omsingel met manne selfs bo-op die dak, 9 mills oorgehaal in
gevegsposisie. Ek en Izak, se werk en voorreg dit eintlik is kom al weer
mosterd na die maal daaraan.
“Help
my, help my ...” kom ʼn benoude stem deur die venster.
“Wat
gaan aan?” wil Izak weet.
"Hy wil
my dood maak!” Sy is ʼn vrou so in haar vroeë vyftigs. Nogal stewig gebou al
moet ek self sê.
“Wie?”
vra ons.
“My
man!” gil sy terug.
Net
daar taan alle entoesiasme en die self ontplooide gevegsmag stap rustig na hul
voertuie en start op en ry stuk stuk lawaaierig met blaffende Alsatians die nag
in ...
Die
upper-class is nogal goed daarmee om mekaar ernstig by te kom en ons met die
papierwerk te los net om dit ʼn dag later te kom onttrek. Doen dit nou nie
perfek reg nie, sal iemand tot in die Uniegebou almal op loop gaan jaag en jou
kop is weer op die blok.
Ons
twee klim deur die venster. Die vrou staan daar netjies aangetrek, nie ʼn merkie
op haar nie.
“Kom
mevrou dat ons die aanklagvorm invul,” sy skuif ywerig nader.
Ek
haal die bruin SAP33 uit en begin met, “Volle naam en id?”
“Maar
waar is die donner?” wil Isak weet
“Toe
maar laat hy sy roes uitslaap, julle kan tog niks nou doen nie, gee daai papier
ons vul dit in en môre kom haal julle hom en sluit hom vir altyd toe,” antwoord
sy.
Ek
ruik lont en loop na die toe deur wat sy na gekyk het. Dit is gesluit.
“Kom
uit!” beveel ek. “Ek gee gee jou tien
sekondes dan skop ek die deur af!”
Die
slot draai, die hefboom beweeg rukkend, die deur gaan stadig oop. Daar staan
hy, net in ʼn onderbroekie, bloed loop oor sy lyf, hy bewe van vrees, die blou
hale van gister en eergister lê kruis en dwars oor sy skouers en rug, hy is ten
minste ... 85.
Romeo, dis Bravo Lima Drie, jou kode zero drie in Lawleystraat, die klaer is tevrede en nog 'n seder het al weer in Waterkloof geval ..."

Comments
Post a Comment